Wikipedia:Voorbladartikels 2006

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Hierdie is die argief van al die artikel wat tydens 2006 as spogartikel op die voorblad gepryk het.

Week 1

Die Kaapse Driehoeke
Die Kaapse Driehoeke

'n Posseël dien as bewys vir die vooruitbetaling van 'n bepaalde posgeld. Meesal is dit 'n klein reghoekige gegomde stukkie papier met een of meer afbeeldings, wat op 'n koevert of poskaart geheg word om aan te toon dat die afsender vir die aflewering reeds vooraf betaal het. Alhoewel daar nou in baie lande ook moderne massaseëls met eenvoudige uitleg bestaan, wat in outomate of met spesiale sagteware gedruk kan word, bly tradisionele seëls nog steeds miniatuurkunswerke, wat kulturele, historiese, politiese of ander onderwerpe behandel, historiese gebeurtenisse gedenk of maatskaplike en ander doeleindes met hulle gedrukte boodskap van prente, tekeninge en teks kan bevorder. Die poskantore van die verskillende lande ding gereeld met mekaar mee om die mooiste posseëls uit te reik, en danksy 'n groot aantal seëlversamelaars, wat die seëls koop sonder om van die daarmee betaalde diens gebruik te maak, speel seëls ook 'n belangrike ekonomiese rol en is 'n vername bron van inkomste vir baie kleiner lande.


besigtig


Week 2

'n TGV-hoësnelheidstrein in die Paryse stasie Montparnasse
'n TGV-hoësnelheidstrein in die Paryse stasie Montparnasse

Die TGV ('n afkorting van die Franse train à grande vitesse, hoësnelheidstrein) is die Franse hoësnelheidstrein, wat deur die maatskappy ALSTOM gebou word - dikwels in samewerking met die Kanadese maatskappy Bombardier (Montréal, Québec). Dit word in Frankryk as 'n nasionale simbool beskou en is nou die mees suksesvolle sneltrein in Europa. Die TGV bereik gereeld 'n maksimale snelheid van 320 km/h, alhoewel hy tydens 'n spesiale toetsrit in die jaar 1990 al 'n rekordsnelheid van 515,3 km/h behaal het wat van hom die snelste trein ter wêreld maak. Die trein, wat hierdie rekord opgestel het, was wél 'n gewysigde en veral verkorte weergawe van die TGV en is gebruik om die tegniese moontlikhede van dié trein te bepaal. Die TGV- en soortgelyke Thalys- en Eurostar-treine verbind groot Franse metropole en ry ook op spoorwegverbindings met België, Duitsland, die Verenigde Koninkryk, Nederland, Italië en Switserland.


besigtig


Week 3

Gorée-eilandhawe
Gorée-eilandhawe

Die Republiek van Senegal is 'n land suid van die Sénégalrivier in Wes-Afrika. Senegal word begrens deur die Atlantiese Oseaan in die weste, Mauritanië in die noorde, Mali in die ooste en Guinee en Guinee-Bissau in die suide. Gambië vorm 'n enklave binne Senegal om die Gambiarivier vir meer as 300 km in die binneland in. Die Kaap Verde eilande lê ongeveer 560 km van die Senegalese kus af. Senegal is geleë aan die weste van die Afrika vasteland. Die Senegalese landskap bestaan hoofsaaklik uit golwende sanderige vlaktes van die westelike Sahel wat in voetheuwels in die suidooste styg. Hier word ook Senegal se hoogste punt aangetref, 'n andersins naamlose 581m hoë punt naby Nepen Diakha. Die noordelike grens word gevorm deur die Sénégalrivier, ander riviere sluit in die Gambia en die Casamancerivier. Die hoofstad Dakar lê op die Cap-Vert skiereiland, die mees westelike punt van vasteland Afrika. Senegal het 'n reputasie vir deursigtigheid in regerings verrigtinge. Die vlak van ekonomiese korrupsie wat die ontwikkeling van die ekonomieë in ander dele van die wêreld benadeel het is laag. Vandag het Senegal 'n demokratiese politieke kultuur gebou op een van die mees suksesvolle demokratiese oorgange in Afrika. Senegal erken en respekteer alle kulture, gelowe en tradisies.


besigtig


Week 4

n Nagtelike oorsig oor die Rooi Plein
n Nagtelike oorsig oor die Rooi Plein

Moskou (Russies Москва) is die hoofstad van die Russiese Federasie en is met 14 435 176 of 'n tiende van die totale Russiese bevolking in die metropolitaanse gebied die grootste stad in Europa. Moskou is die politieke, ekonomiese en kulturele sentrum van Rusland en beskik mwt belangrike tersiêre instellings, talle kerke, teaters, museums, kunsgalerye en die televisietoring van 577 meter oor sommige van die bekendste geboue van die land. Met nege spoorwegstasies, vier internasionale lughawens en drie binnelandse hawens beskik Moskou as die grootste Russiese nywerheidsentrum oor 'n moderne infrastruktuur. Moskou is die setel van die Russies-ortodokse kerk. Die Danilov-klooster huisves die patriargaat van die kerk, terwyl die Christus-die-Verlosser-katedraal bekend staan as die grootste Russies-ortodokse kerkgebou. Die Kremlin en die Rooi Plein word sedert die jaar 1990 deur die UNESCO as wêrelderfenisgebiede gelys. Moskou lê in die westelike, Europese deel van die Russiese Federasie, in die heuwelland tussen die riviere Oka en Wolga en teen die soms steile oewers van die Moskwarivier. Die ringvormige hoofpad van 109 kilometer, wat die stad sedert 1962 omsluit, dien ook as stadsgrens. Sowat 'n derde van Moskou se oppervlakte van meer as duisend vierkante kilometer is groen gebiede en parke.


besigtig


Week 5

Hops
Hops

Die Reinheitsgebot (letterlik reinheidsgebod) is 'n regulasie wat sy oorsprong het in die stad Ingolstadt in die graafskap van Beiere in 1516 en gemoeid is met die standaarde vir die verkoop en samestelling van bier. Daar word gemeen dat dit waarskynlik die oudste regulasie oor voedselhigiëne is wat steeds in gebruik is. In die oorspronklike teks is die enigste bestanddele wat gebruik kon word in die vervaardiging van bier, water, gars en hops. Die wet het ook die prys van bier vasgestel teen 1-2 Pfennig per Maß. Die Reinheitsgebot is nie meer deel van Duitse wetgewing nie en is vervang deur die Voorlopige Duitse Bierwet (Vorläufiges deutsches Biergesetz). Gis is nie in die oorspronklike teks genoem word nie. Louis Pasteur het die rol van mikro-organismes in die gistingsproses eers in die 1800s ontdek. Hops word by bier gevoeg as preserveermiddel en die noem daarvan in die Reinheitsgebot was bedoel om minderwaardige metodes van preservering te vermy. Middeleeuse brouers het baie problematiese bestanddele gebruik om bier te preserveer, insluitend roet en sampioene. Meer algemeen is ander kruie soos brandnetel gebruik. Die straf vir die maak van 'n onsuiwer bier is ook in die Reinheitsgebot uiteengesit: 'n brouer wat enige ander bestanddele gebruik het in sy bier se voorraad sou gekonfiskeer word sonder enige vergoeding.


besigtig


Week 6

Vlag van Israel
Vlag van Israel

Operasie Entebbe vind plaas gedurende die nag van 3 Julie en die vroeë môre van 4 Julie 1976. Dit is oorspronklik Operasie Donderslag deur die Israelse beplanners genoem. Dit is daarna hernoem as Operasie Jonatan, vernoem na die bevelvoerder, wat ook die enigste Israeliese soldaat wat in die aanval gedood is, Kolonel Jonatan "Jonie" Netanyahu. Op 27 Junie 1976, sewe dae voor die operasie, styg Air France Vlug 139 in Athene, Griekeland op pad na Parys, Frankryk. 'n Kaping volg en die vlug word gedwing om na Benghazi, Libië te vlieg. Na sewe ure op die aanloopbaan in Benghazi, waartydens die vliegtuig met brandstof hervul is en een vroulike gyselaar vrygelaat is, vertrek die Airbus weer. Die volgende oggend land die vliegtuig op die Entebbe Internasionale Lughawe in Oeganda. Die passasiers word aangehou in die ou-terminaal oorgangsaal. Die terroriste het later die meeste passasiers vrygelaat en slegs Israeli's en Jode aangehou. In 'n sorgvuldig beplande militêre operasie word die pasiers en bemanning bevry.

Lees verder by Operasie Entebbe.
besigtig


Week 7

Glasbeeldhouwerk deur Dale Chihuly by 'n uitstalling te Kew Gardens, Londen, Engeland. Die stuk staan 4 meter hoog.
Glasbeeldhouwerk deur Dale Chihuly by 'n uitstalling te Kew Gardens, Londen, Engeland. Die stuk staan 4 meter hoog.

Glas is 'n eenvormige amorfe vastestof materiaal, wat gewoonlik ontstaan as 'n geskikte viskose gesmelte materiaal vinnig afgekoel word tot onder sy glasoorgangstemperatuur en sodoende nie genoeg tyd laat vir die gewone kristalraamwerk om te vorm nie. 'n Eenvoudig voorbeeld is wanneer tafelsuiker gesmelt word en vinnig afgekoel word deur die stroop op 'n koue oppervlak uit te giet. Die resultaat is 'n amorfe vastestof wat nie kristallyn is nie. Die woord glas kom van die Latynse woord glacies wat ys beteken. Die ou Germaanse stamme het die woord glaes gebruik om amber te beskryf. In die algemene omgangstaal verwys die woord glas normaalweg na die silika gebaseerde glasse wat algemeen gebruik word as 'n boumateriaal, vir houers en versiering. In sy suiwer vorm, is glas 'n deursigtige, relatief sterk, verweerbestande, bykans inerte en biologies onaktiewe materiaal. Glas is baie bros en breek om skerp skerwe te vorm. Dit kan verander word deur bymiddels of hitte-behandeling. Gewone glas bestaan uit ongeveer 70% amorfe silikon dioksied (SiO2), wat dieselfde chemiese verbinding is waaruit kwarts bestaan. Die polikristallyne vorm van hierdie materiaal is gewone sand.

Lees verder by glas.
besigtig


Week 8

Simone de Beauvoir, links, saam met Jean-Paul Sartre en Che Guevara in Kuba.
Simone de Beauvoir, links, saam met Jean-Paul Sartre en Che Guevara in Kuba.

Simone de Beauvoir (9 Januarie, 190814 April 1986) was 'n Franse skrywer, filosoof en feminis. Die omvang van haar werk is divers; sy was 'n romanskrywer, politieke teoretikus, essayis, asook 'n biograaf en outobiograaf. Sy is veral bekend vir haar werk, Le Deuxième Sexe (Die tweede geslag, 1949), waarin sy 'n gedetaileerde analise van die onderdrukking van die vrou gedoen het. Die eksistensiële dilemma is die sentrale tema van vele van haar werke, maar haar perspektief strek van die outobiografiese tot die historiese. Simone de Beauvoir beredeneer 'n feministiese eksistensialisme in haar werk Le Deuxième Sexe (Die tweede geslag), gepubliseer in 1949. As 'n ekstensialis aanvaar de Beauvoir die doktrine "bestaan gaan essensie vooraf" en huldig die standpunt dat 'n mens nie as 'n vrou gebore word nie, maar een gemaak word. Die samelewing beskou die man as die absolute en die noodsaaklikste onderwerp van die samelewing. Haar analise fokus op die konsep van die vrou as "Die Ander". Die vrou word altyd as afhanklik van die man gedefinieer. Dit is die (sosiale) opvatting van Vrou as die beliggaamde Ander wat de Beauvoir as fundamenteel tot die vrou se onderdrukking identifiseer.

Lees verder by Simone de Beauvoir.
besigtig


Week 9

Hierdie beeld, wat deur 'n kunstenaar van die NASA geskep is, wys hoe die Melkweg vir 'n buitegalaktiese waarnemer sou lyk
Hierdie beeld, wat deur 'n kunstenaar van die NASA geskep is, wys hoe die Melkweg vir 'n buitegalaktiese waarnemer sou lyk

Die Melkweg is 'n spiraalbalk sterrestelsel wat deel uitmaak van die Plaaslike Groep. Alhoewel die Melkweg slegs een van biljoene hemelstrate in die heelal is, het dit 'n besondere betekenis vir die mensheid as die tuiste van ons sonnestelsel.

Die vergelyking met "melk" is te danke aan die wasige band van wit lig, wat dwarsoor die nagtelike hemel, soos gesien vanuit die aarde, loop. Die band bestaan uit sterre en ander kosmiese objekte, wat binne die galaktiese vlakte lê. Die helderste gedeelte van die hemelstraat lê in die rigting van die sterrebeeld Sagittarius, teen die sentrum van die Melkweg. Aangesien die Melkweg uit 'n groot aantal sterre met 'n swak ligsterke bestaan wat nie vir die blote oog sigbaar is nie, neem 'n mens hulle net as 'n helder melkagtige band langs die naghemel waar. Die Melkweg is slegs sigbaar in 'n helder naghemel en word moeilik waargeneem in stedelike gebiede waar oorvloedige kunsmatige lig sigbaarheid belemmer. Ook die sowat 6 000 sterre, wat danksy hulle hoë ligsterkte duidelik sigbaar is vir die blote oog, maak deel uit van die Melkweg.

Lees verder by Melkweg.
besigtig


Week 10

Die Piazza de Ferrari
Die Piazza de Ferrari

Genua (Italiaans: Genova, Frans: Gênes) is 'n belangrike hawestad in Noord-Italië, hoofstad van die historiese landskap Ligurië en die huidige provinsie Genua, met sowat 590 000 inwoners. Die agglomerasie van Genua het sowat 800 000 inwoners (2004). Die stad is die setel van 'n aartsbiskop en 'n universiteit. Die ou stadskern behoort tot die grootstes in Europa, en die stad spog met talle historiese paleise in 'n verskeidenheid boustyle. Naas die hawe is die skeepsbou en die yster-, staal-, papier-, tekstiel- en chemiese nywerheid die ekonomiese basis van die stad. Ook voedselverwerking en handel lewer 'n groot bydrae tot Genua se ekonomie..

Lees verder by Genua.
besigtig


Week 11

Die Nylrivier en sy delta (satellietfoto)
Die Nylrivier en sy delta (satellietfoto)

Die Nyldelta word by die monding van die Nylrivier in Noord-Egipte gevorm, waar die rivier uitbrei, vertak en uiteindelik in die Middellandse See uitmond. Dit is met 'n oppervlakte van sowat 24 000 vierkante kilometer een van die grootste rivierdeltas ter wêreld en strek van die hawestad Alexandrië in die weste tot by Port Said in die ooste. Die delta beslaan sowat 240 kilometer van die Mediterreense kuslyn en strek 160 kilometer suidwaarts na die binneland, waar dit naby die hoofstad Kaïro begin. Die delta is 'n vrugbare landboustreek
besigtig


Let wel: week 12 is oorgeslaan om 'n fout in die weektelling te korrigeer. Die artikel is gevolglik herhaal sodat dit steeds vir 'n week vertoon.


Week 12 besigtig


Week 13

Die mont Saint-Michel in 2005
Die mont Saint-Michel in 2005

Mont-Saint-Michel (Bretons Menez Mikael) is 'n abdy, gebou op 'n rotsagtige eiland aan die Normandies-Bretonse kus (département Manche, Frankryk). Die abdy maak deel uit van die gelyknamige dorp in die canton van Pontorson. Die berg, wat sedert die jaar 1979 as een van die UNESCO se wêrelderfenisgebiede gelys word, is in 1987 tot 'n nasionale historiese monument verklaar. Dit word dikwels met die Sewe wonders van die wêreld vergelyk. Oorspronklik vorm die berg onder sy aanvanklike naam Mont Tombe saam met die klein eiland van die rif Tombelaine en die berg Mont Dol op die vasteland 'n soort heidense sentrum. Die Mont Tombe dien as 'n belangrike vergaderplek van druïdes, maar ook as offerplek, waar die gode deur die offers van jong mans gunstig gestem is.

Lees verder by Mont-Saint-Michel
besigtig


Week 14

Wankelenjin in die Duitse Museum
Wankelenjin in die Duitse Museum

Die Wankelenjin is 'n tipe binne­brand­enjin wat deur Duitse ingenieur Felix Wankel uitgevind is, en gebruik 'n roterende suier in plaas van resi­pro­kerende suiers. Die ontwerp beloof gladde hoë-omwenteling-per-minuut krag van 'n kompakte, liggewig enjin. Wankel­enjins word egter gekritiseer vir swak brandstof­verbruik en oormatige uitlaatgasse. Die enjin is in die 1960's deur NSU Motorenwerke AG (NSU), wat later deel van Audi geword het, en Mazda bekend gestel. Alhoewel baie vervaar­digers die ontwerp gelisen­sieer het, en Mercedes-Benz dit in hulle C-111 konsep­motor gebruik het, het slegs Mazda groot getalle Wankel­enjins vervaardig. Sedert 2005 is die enjin slegs beskik­baar in die Mazda RX-8.

Lees verder by Wankelenjin.
besigtig


Week 15

'n pylsterteend
'n pylsterteend

Die pylsterteend is 'n algemene en wydverspreide eend wat oor groot dele van Noord-Amerika, Europa en Asië voorkom, asook in sekere streke in Afrika. Die spesie kom ook voor in 'n klein strekie in Suidelike Afrika en word dus ook as 'n Suider-Afrikaanse voël beskou. Hulle is streng nomadies. Buite die paarseisoen is hulle hoogs gesellig en vorm groot gemengde swerms met ander eende. Eilandbevolkings het afgesplinter en ontwikkel in aparte spesies soos Eaton se Pylsterteend, 'n nabyverwante spesie waarvan twee vorme op die Kergueleneilande, en Crozeteilande in die Suidelike Indiese Oseaan gevind word. In beide gevalle ontwikkel die manlike voēls nie volle broeivere nie. Bedreigings vir die pylsterteend sluit in: voëlgriep, habitatverlies, besoedeling en indringerplante.

Lees die volledige weergawe van die Afrikaanse Wikipedia se 5000ste artikel by pylsterteend.
besigtig


Week 16

Die reliëfmodel by die Magersfonteinmuseum wat die troepebewegings tydens die geveg verduidelik
Die reliëfmodel by die Magersfonteinmuseum wat die troepebewegings tydens die geveg verduidelik

Die Slag van Magersfontein het 'n beroemde oorwinning geword vir die Boeremagte tydens die Tweede Vryheidsoorlog. Hierdie slag het een van 'n driestuks neerlae deur die Britse magte (saam met Colenso en Stormberg) uitgemaak wat in Brittanje as die Swart Week bekend gestaan het. Die slag het gevolg na drie opeenvolgende nederlae (Belmont, Graspan en Twee Riviere (aan die Engelse bekend as die slag van modderrivier) wat deur die Boeremagte gelei is in hul poging om Lord Methuen se opmars om Kimberley te ontset, te stuit.

Lees verder by Slag van Magersfontein.
besigtig


Week 17

Die Brandenburger Tor, een van Berlyn se bekendste bakens
Die Brandenburger Tor, een van Berlyn se bekendste bakens

Berlyn is die hoofstad en grootste stad van Duitsland met 3 394 000 inwoners in die stad self en sowat 4,3 miljoen in die metropolitaanse gebied. 450 400 buitelanders leef in Berlyn, wat ook een van die grootste Turkse gemeenskappe in Europa het. Ná Londen is Berlyn die tweede grootste stad in die Europese Unie en een van die grootste metropolitaanse gebiede. Berlyn lê in die noordooste van die huidige Duitsland en word omring deur die deelstaat Brandenburg. Die stad dien in die verloop van sy geskiedenis meermale as die hoofstad van Duitse state soos die Keurvorstedom Brandenburg, die Koninkryk Pruise, die Duitse Ryk (1871 tot 1945) en die Duitse Demokratiese Republiek (1949 tot 1990). Met die ontbinding van die ou provinsie Pruise deur die geallieerde magte in die jaar 1947 word Berlyn 'n afsonderlike deelstaat.

Lees verder by Berlyn.
besigtig


Week 18

'n Tipiese plaashuis op die skiereiland Crozon (Finistère)
'n Tipiese plaashuis op die skiereiland Crozon (Finistère)

Bretagne is 'n administratiewe streek in die noordweste van Frankryk, wat uit die départements Côtes-d'Armor, Finistère, Ille-et-Vilaine en Morbihan bestaan. Die administratiewe hoofstad is Rennes. Die naam Bretagne verwys naas die administratiewe gebied ook na die historiese provinsie Bretagne, waarvan tans net vier vyfdes deel uitmaak van die gelyknamige Franse région. Die oorblywende gebied, die département Loire-Atlantique met sy prefektuur Nantes (een van die voormalige hoofstede van die hertogdom Bretagne) is nou deel van die région Pays-de-la-Loire.

Lees verder by Bretagne.
besigtig


Week 19

Tegnesium
Tegnesium

Tegnesium is 'n chemiese element met die simbool Tc en atoomgetal van 43. Die chemiese eienskappe van hierdie silwergrys, radio-aktiewe, kristallyne oorgangsmetaal lê iewers tussen renium en magnesium. Die isotoop met die kortste leeftyd, Tc-99m, word gebruik in die kerngeneeskunde om sekere soorte kanker mee te diagnoseer. Dmitri Mendelejef het baie van die eienskappe van element 43 lank voor die ontdekking daarvan voorspel. In 1937 was die isotoop Tc-97, die eerste element wat kunsmatig vervaardig word. Die meeste tegnesium wat op aarde geproduseer word, is 'n neweproduk van die fisie van uraan-235 in kernreaktore en word onttrek vanuit die kernstawe. Geen isotoop van tegnesium het 'n halfleeftyd van langer as 4.2 miljoen jaar nie, dus het die waarneming daarvan in rooi reuse in 1952 die teorie ondersteun dat sterre ook swaarder elemente kan vervaardig. Op aarde kom tegnesium slegs natuurlik in uraanerts as 'n produk van spontane fisie voor; die hoeveelhede is uiters klein, maar die teenwoordigheid is nogtans vasgestel.

Lees verder by Tegnesium
besigtig


Week 20

Die groot landswapen van die Koninkryk van België.
Die groot landswapen van die Koninkryk van België.

Die Koninkryk van België is 'n land in Noordwes-Europa begrens deur Nederland, Duitsland, Luxemburg en Frankryk. België het 'n bevolking van meer as tien miljoen mense in 'n gebied dertig-duisend vierkante kilometer groot. België lê op 'n kulturele kruispad tussen die Germaanse Europa (met Nederlandssprekende mense in die noorde, die Vlaminge) en die Romaanse Europa (met Franssprekende mense in die suide). Twee hooftale word in België gepraat: Nederlands — soms nie-amptelik Vlaams genoem — in Vlaandere in die noorde; en Frans, in Wallonië in die suide. Die hoofstad, Brussel, is amptelik tweetalig, maar die meerderheid van die inwoners praat Frans. 'n Amptelik erkende minderheid Duitse sprekers is in die ooste gesetel. Die linguistieke diversiteit lei gereeld tot politieke konflik, en word weerspieël in België se ingewikkelde regeringstelsel en politieke geskiedenis.

Lees verder by België
besigtig


Week 21

'n Franstalige straatbord in Franschhoek
'n Franstalige straatbord in Franschhoek

Die Franse taal behoort tot die Romaanse groep van die Indo-Europese tale. Van alle Romaanse tale het dit ten opsigte van sy struktuur en uitspraak die sterkste wegbeweeg van die oorspronklike Latyn. Frans is naas Engels die enigste wêreldtaal wat op vyf vastelande gepraat word, en dit is die amptelike of verkeerstaal van meer as die helfte van die Afrikalande. Dit is ook een van die belangrikste tale van die internasionale en diplomatieke verkeer, 'n beduidende onderwystaal en die taal van internasionale organisasies soos die UPU (Wêreldposunie).
besigtig


Week 22

Simboliese voorstelling van die verowering van Jerusalem (12de–14de eeu)
Simboliese voorstelling van die verowering van Jerusalem (12de–14de eeu)

Die kruistogte verwys na 'n reeks militêre veldtogte wat tussen die 11de en die 13de eeue plaasgevind het. Oorspronklik was dit Rooms-Katolieke pogings om die Heilige Land by die Moslems af te neem. Sommige was egter selfs teen ander Christene gemik. Kruistogte word dus dikwels gedefinieer as heilige oorloë teen groepe of volkere, wat as interne of eksterne teenstanders van die christendom beskou is. Die term "kruistog" dateer uit 'n tydperk ná die middeleeue en verwys na die kruise wat deelnemers van die kruistogte op hulle kleding aangebring het. In die breër sin word kruistog soms retories en metafories gebruik om 'n oorlog wat 'n godsdienstige oogmerk het, te regverdig.

Lees verder by Kruistog
besigtig


Week 23

Tweetalige (Wallies-Engelse) padteken
Tweetalige (Wallies-Engelse) padteken

Wallies is 'n Keltiese taal. Wallies word deur moedertaalsprekers in die westelike deel van Brittanje bekend as Wallis, en in die Chubut Vallei, 'n Walliese immigrantegemeenskap in Patagonië in Argentinië, gepraat. Daar is ook sprekers in oor die hele wêreld vernaamlik in Engeland, die VSA en Australië. In 2001 is dit deur 20,5 % van die bevolking in Wallis gepraat, 'n styging van 2% sedert 1991. Wallies kom vir iemand wat die taal nie ken nie as volstrek onlogies en onuitspreekbaar voor. Die Walliese grammatika en uitspraak is egter juis baie konsekwent.

Lees verder by Wallies
besigtig


Week 24

'n Blaar. Die plek waar fotosintese hoofsaaklik in plante plaasvind.
'n Blaar. Die plek waar fotosintese hoofsaaklik in plante plaasvind.

Fotosintese is 'n belangrike biochemiese proses waarmee plante, alge, en sommige bakterieë die energie van sonlig benut om voedsel te vervaardig. Die meeste lewende organismes is per slot van rekening direk of indirek afhanklik van fotosintese vir hulle voedsel. Dit is verantwoordelik vir die vervaardiging van suurstof wat 'n groot deel van die aarde se atmosfeer uitmaak. Organismes wat energie omskakel deur middel van fotosintese word fototrowe genoem.

Lees verder by Fotosintese
besigtig


Week 25

Turyn, met die Wes-Alpe in die agtergrond
Turyn, met die Wes-Alpe in die agtergrond

Turyn is die hoofstad van die administratiewe gebied Piëmont en 'n groot nywerheidsentrum in die noordweste van Italië. Turyn staan tradisioneel as die stad van die barok- en Art nouveau-boustyle bekend; die stad beskik daarnaas oor 'n groot aantal arkades. Turyn tree in Februarie 2006 as gasheerstad van die Olimpiese Winterspele op, en saam met die uitbou van die infrastruktuur skep internasionale argitekte soos Renzo Piano, Gae Aulenti en Arata Isozaki nuwe argitektoniese hoogtepunte.

Lees verder by Turyn.
besigtig


Week 26

Die Grote Markt (Groot Mark) of Grand Place van Brussel
Die Grote Markt (Groot Mark) of Grand Place van Brussel

Brussel is die hoofstad en politieke, ekonomiese en kulturele sentrum van België met 'n oppervlakte van 32,61 vierkante kilometer en 144 790 inwoners. Saam met 18 ander stede en gemeentes vorm dit die metropolitaanse gebied (agglomeratie) van Brussel met sowat een miljoen oorwegend Franstalige inwoners. Dit is na Montréal ook die tweede grootste Franstalige agglomerasie buite Frankryk. Openbare instellings is twee- of drietalig.

Lees verder by Brussel.
besigtig


Week 27

Waarneming by die Suidpool deur Roald Amundsen
Waarneming by die Suidpool deur Roald Amundsen

Antarktika is 'n kontinent by die Suidpool van die aarde, omring deur die Suidelike Oseaan en in twee verdeel deur die Transantarktiese Berge. Antarktika is die koudste plek op aarde en die kontinent is byna volledig met ys bedek. Dit is ook die kontinent met die laagste gemiddelde lugvogtigheid en dit is die winderigste en hoogste kontinent (gemiddeld) op aarde. Die kontinent se 14 miljoen km² oppervlak maak dit die vyfde grootste kontinent en die grootste woestyn ter wêreld.

Lees verder by Antarktika.
besigtig


Week 28

Keiserpikkewyne met kleintjies
Keiserpikkewyne met kleintjies

Die pikkewyne is 'n groep seevoëls uit die Suidelike Halfrond wat nie kan vlieg nie. Hulle verteenwoordig die enigste familie in die orde Sphenisciformes wat onder die Neognathae tel. Die seeduikers (Gaviiformes) en stormvoëlagtiges (Procellariiformes) vorm waarskynlik hulle stamverwante sustersgroepe. Pikkewyne is maklik onderskeibaar van alle ander voëls en is uitstekend aangepas tot 'n lewe in die see en deels om in die koudste dele van die wêreld te oorleef.

Lees verder by pikkewyn.
besigtig


Week 29

Finse skitroepe in Noordelike Finland 12 Januarie 1940.
Finse skitroepe in Noordelike Finland 12 Januarie 1940.

Die Winteroorlog (ook bekend as die Sowjet-Finse Oorlog of die Russies-Finse Oorlog) het uitgebreek toe die Sowjetunie Finland op 30 November 1939 aanval, drie maande na die aanvang van die Tweede Wêreldoorlog. As gevolg hiervan is die Sowjetunie op 14 Desember uit die Volkebond geskop. Sowjetleier Josef Stalin het verwag dat die hele land teen die einde van die jaar oorwin sou wees, maar Finse weerstand het die Sowjetmagte, wat die Finne drie tot een in getalle oortref het, se planne in die wiele gery. Finland hou tot Maart 1940 uit toe 'n vredesverdrag geteken is waarvolgens omtrent 10% van Finland se grondgebied en 20% van die land se nywerheidsvermoë aan die Sowjetunie afgestaan is. .

Lees verder by Winteroorlog.
besigtig


Week 30

Die weegskaal van die gereg
Die weegskaal van die gereg

'n Patent is 'n stel uitsluitlike regte wat deur die staat aan 'n persoon toegeken word vir 'n vaste tydperk in ruil vir die beheerde, openbare bekendmaking van sekere besonderhede van 'n toestel, tegniek, proses of samestelling van materiale (wat as 'n uitvinding bekend staan) wat nuut is, innoverend en nie voor-die-hand-liggend is nie en bruikbaar is of nywerheidstoepassings het. Die uitsluitlike regte wat aan die patenthouer gegee word is die reg om ander te verhoed om die patent waarop aanspraak gemaak word te maak, gebruik, te verkoop, aanbiedinge tot die verkoop daarvan te maak of dit in te voer. Die regte wat aan die patenthouer toegeken word sluit nie noodwendig die reg in om die uitvinding self te maak, te verkoop of te gebruik nie. Die patenthouer mag byvoorbeeld eers aan ander wette en regulasies voldoen alvorens hy kan gebruik maak van die uitvinding.

Lees verder by patent.
besigtig


Week 31

'n Uitsig oor die Middel-Swartwoud
'n Uitsig oor die Middel-Swartwoud

Die Swartwoud is 'n dig bebosde gebied, wat van die sogenaamde "Drielandepunt" (Switserland - Frankryk - Duitsland) langs die vlaktes van die Ryn se boloop sowat 160 kilometer noord strek. Dit is die grootste van die Duitse middelgebergtes en lê in die suid-weste van die deelstaat Baden-Württemberg. Die bergreeks bereik in die suidelike gedeelte 'n wydte van tot by 60 kilometer, in die noorde net 30 kilometer.

Lees verder by Swartwoud.
besigtig


Week 32

Die hoofstad Sofia, met die Vitosja-bergspits in die agtergrond
Die hoofstad Sofia, met die Vitosja-bergspits in die agtergrond

Bulgarye is 'n land in Suidoos-Europa. Dit word begrens deur die Swart See in die ooste, Griekeland en Turkye in die suide, Serwië en die Voormalige Joegoslawiese Republiek van Masedonië in die weste, en Roemenië in die noorde. Die land vorm ten opsigte van sy landskappe en sy kultuur 'n oorgangsgebied tussen Europa en die Ooste, maar ook tussen die Mediterreense en vastelandse gebiede van Oos-Europa.

Lees verder by Bulgarye.
besigtig


Week 33

'n Vulkaanuitbarsting in 2004
'n Vulkaanuitbarsting in 2004

Réunion is 'n eiland en oorsese département van Frankryk, geleë in die Indiese Oseaan omtrent 700 kilometer oos van Madagaskar en 200 kilometer suidwes van Mauritius, met 'n oppervlak van 2 512 vierkante kilometer en 775 000 inwoners. Soos ander oorsese Franse gebiede is Réunion ook een van die 26 régions van Frankryk.

Lees verder by Réunion.
besigtig


Week 34

Die kleinletter pi
Die kleinletter pi

Die wiskundige konstante π (geskryf as "pi" wanneer die Griekse letter nie beskikbaar is nie, uitgespreek "pie") word algemeen in wiskunde en fisika gebruik. In Euclidiese meetkunde word π gedefinieer as óf die verhouding van 'n sirkel se omtrek tot sy deursnit, óf as die oppervlak van 'n sirkel van radius 1 (die eenheidsirkel). Meeste moderne handboeke definieer π analities deur trigonometriese funksies te gebruik, soos b.v. as die kleinste positiewe x waarvoor sin(x) = 0, of twee maal die kleinste positiewe x waarvoor cos(x) = 0. Al hierdie definisies is ekwivalent.


Lees verder by Pi
besigtig


Week 35

Rotskus naby Etretat
Rotskus naby Etretat

Normandië is 'n historiese provinsie in die noord-weste van Frankryk, wat van die riviervlaktes van die Seine (Haute-Normandie) tot by die skiereiland Cotentin (Basse-Normandie) en die Kanaaleilande strek. Terwyl die vasteland deel uitmaak van die Franse Republiek, is die Kanaaleilande sedert die middeleeue 'n Britse kroongebied. In die huidige Frankryk verwys die term Normandië dikwels na die administratiewe geweste Haute-Normandie en Basse-Normandie

Lees verder by Normandië.
besigtig


Week 36

Meer naby Killarney, graafskap Kerry
Meer naby Killarney, graafskap Kerry

Die Republiek van Ierland is 'n onafhanklike staat in die noord-weste van Europa, wat met 70 273 vierkante kilometer sowat vier vyfdes van die eiland Ierland beslaan. Noord-Ierland, die gebied in die noord-ooste van Ierland, is een van die deelstate van die Verenigde Koninkryk. Die Republiek van Ierland het 4,1 miljoen inwoners. Die Republiek van Ierland is sedert 1973 'n lidstaat van die Europese Unie en beskik oor 'n hoogs ontwikkelde ekonomie, wat immigrante uit ander Europese en oorsese lande lok.

Lees verder by Republiek van Ierland.
besigtig


Week 37

Die binnekant van 'n hardeskyf met die skyf verwyder. Aan die linkerkant is die lees-skryf arm. In die middel kan die elektromagnete van die skyf se motor gesien word.
Die binnekant van 'n hardeskyf met die skyf verwyder. Aan die linkerkant is die lees-skryf arm. In die middel kan die elektromagnete van die skyf se motor gesien word.

'n Hardeskyf is 'n toestel vir die stoor van data op 'n magnetiese oppervlak in die vorm van hardeskyfplate. Dit gebruik roterende skywe wat elk 'n gladde magnetiese oppervlak het waarop digitale data gestoor kan word. Inligting word op die plaat gestoor deur die aanwending van 'n magnetiese veld baie naby aan die magnetiese oppervlak deur die lees-skryfkop.

Lees verder by hardeskyf.
besigtig


Week 38

Die sentrale Pireneë
Die sentrale Pireneë

Die Pireneë is 'n bergreeks in Suidwes-Europa, wat die natuurlike grens tussen Frankryk en Spanje vorm. Die Pireneë skei Frankryk van die Iberiese Skiereiland en strek oor 'n afstand van sowat 430 kilometer van die Golf van Biskaje in die Atlantiese Oseaan tot by die Kaap Creus aan die Middellandse See.

Lees verder by Pireneë.
besigtig


Week 39

Air France Concorde
Air France Concorde

Die Concorde is 'n supersoniese vliegtuig, wat deur die Franse en Britse lugvaartnywerhede gemeenskaplik vervaardig is. Naas die Russiese Toepolef-144 is dit een van slegs twee supersoniese passasiersvliegtuie wat ooit vervaardig en in diens geneem is. Die vliegtuig is volgens die ooreenkoms van 29 November 1962 tussen die Franse en Britse regerings oor 'n tydperk van 15 jaar ontwikkel en deur die Franse maatskappy Aérospatiale (tans EADS) en die Britse British Aircraft Corporation (tans BAE Systems) gebou.

Lees verder by Concorde
besigtig


Week 40

Die kasteel Eilean Donan
Die kasteel Eilean Donan

Skotland is 'n deelstaat in die noordweste van Europa en vorm een van die vier deelstate van die Verenigde Koninkryk. Die hoofstad, Edinburgh, is een van die belangrikste finansiële sentrums in Europa. Skotland beslaan met 78 772 vierkante kilometer sowat een derde van Groot-Brittanje se oppervlak en grens aan Engeland in die suide. In die ooste word Skotland deur die Noordsee begrens, in die noorde en weste deur die Atlantiese Oseaan, en in die suidweste deur die Noordelike Kanaal en die Ierse See.

Lees verder by Skotland.
besigtig


Week 41

'n Illustrasie van die verskeie onderdele van 'n vierslag-enjin.
'n Illustrasie van die verskeie onderdele van 'n vierslag-enjin.

'n Binnebrandenjin oftewel die suier binnebrandenjin is enige enjin wat funksioneer deur brandstof binne in die enjin te verbrand. Daarteenoor kry mens ook buitebrandenjins soos die stoomenjin en die Stirling enjins, wat brandstof aan die buitekant van die enjin laat brand. Stralerenjins en gasturbines gebruik ook interne verbranding maar die term 'binnebrandenjin' verwys normaalweg na enjins waar die verbranding met tussenposes plaasvind en waar daar resiprokerende masjinerie teenwoordig is.

Lees verder by Binnebrandenjin.
besigtig


Week 42

Montreux in die aandskemer
Montreux in die aandskemer

Montreux is die derde grootste stad van die Franstalige kanton Vaud in Switserland, aan die oostelike oewer van die Lac Léman, met sowat 22 900 inwoners (2003). Danksy die beskermende agterland met berge van meer as 2 000 meter het Montreux 'n baie milde klimaat met subtropiese flora langs die oewerpromenade. Die stad is vandag een van die belangrikste toeristebestemmings van Switserland en met sy Montreux Jazz Festival ook 'n internasionale ontmoetplek van die musiekbedryf. Montreux het ook 'n verbintenis met Suid-Afrika: In die noordwestelike stadswyk Clarens lê die huis waar Paul Kruger, die President van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR), op 14 Julie 1904 oorlede is en wat nou as Krugerhuis bekend staan.

Lees verder by Montreux.
besigtig


Week 43

Eksperiment wat 'n (waarskynlik argon-) laser gebruik
Eksperiment wat 'n (waarskynlik argon-) laser gebruik

Laser is 'n afkorting in Engels wat staan vir (light amplification by stimulated emission of radiation) wat in afrikaans vertaal "ligversterking deur die gestimuleerde emissie van straling" beteken. 'n Laser is 'n toestel wat 'n kwantummeganiese effek naamlik gestimuleerde emissie, benut om 'n koherente straal lig te lewer. (D.w.s. golwe is in fase en geen interferensie vind plaas nie.) Lig van 'n laser is dikwels parralel en monochromaties, maar dit is nie waar vir alle tipe lasers nie.

Lees verder by laser.
besigtig


Week 44

Die buffel
Die buffel

Die buffel is 'n gelyktonige hoefdier van die familie Bovidae, en die subfamilie Bovinae. Die swaarste trofeebuffel ooit (aangeteken in die Willem Pretoriuswildreservaat) het 900 kilogram geweeg. Die rekordhoringlengte vir Suider-Afrika is aangeteken in Zimbabwe as 124,8cm. Die buffel is enorm groot, swaargebou en beesagtig in voorkoms. Volwasse bulle se velkleur is donkerbruin tot swart. Die koeie se velkleur is gewoonlik ligter. Jong buffels se vel het 'n rooibruin voorkoms. Die hare van die pels is kort en grof, en word yler met toenemende ouderdom.

Lees verder in die buffelartikel.
besigtig


Week 45

Straathoek in Buenos Aires
Straathoek in Buenos Aires

Buenos Aires (34°40′S 58°24′W) is die hoofstad en die ekonomiese, kulturele en nywerheidsentrum van Argentinië en grootste Spaanstalige stad ter wêreld, met 2 746 761 inwoners (2005) in die Distrito Federal (203 km²) en sowat twaalf miljoen mense in die metropolitaanse gebied (Gran Buenos Aires) van 2 915 km². Die stad lê aan die mond van een van die grootste riviere wêreldwyd, die Río de la Plata (Silwerrivier). Aangesien Gran Buenos Aires sowat 'n derde van die Argentynse bevolking huisves, oorheers sy ekonomie die res van die land.

Lees verder by Buenos Aires.
besigtig


Week 46

Flüeli-Ranft, Switzerland, Kanton Obwalden
Flüeli-Ranft, Switzerland, Kanton Obwalden

Die Switserse Konfederasie is 'n klein federale staat in Sentraal-Europa, met Duitsland, Frankryk, Italië, Oostenryk en Liechtenstein as aangrensende lande. Die land het 'n lang tradisie van politiese en militêre neutraliteit, maar ook vir internasionale samewerking aangesien dit die tuiste is van baie internasionale organisasies. Confœderatio Helvetica (CH), die Latynse weergawe van die amptelike naam, vermy ‘n keuse tussen die vier amptelike tale. Die afkorting word op soortgelyke manier gebruik; dit word byvoorbeeld gebruik as Switserland se Internet topvlakdomein, .ch.

Lees verder by Switserland.
besigtig


Week 47

Mont-Tremblant in Québec
Mont-Tremblant in Québec

Québec is een van die tien provinsies van Kanada met 'n landoppervlakte van 1 540 687 vierkante kilometer en 7 598 100 inwoners (2005). Die provinsie het grense met die Verenigde State in die suide, die provinsie Ontario in die weste en die provinsie Nouveau-Brunswick (Engels: New Brunswick) in die ooste. Sowat die helfte van die grondgebied bestaan uit mere en riviere - die provinsie besit 16 persent van die wêreld se varswaterreserwes. Die noorde (Grand-Nord québécois) is arkties en yl bevolk, terwyl die vlaktes van die Saint-Laurentrivier tot die gematigde sone behoort. Die grootste stede is Québec (stad), die provinsiale hoofstad, en Montréal.

Lees verder by Québec (provinsie).
besigtig


Week 48

Patagonië in die Suide van Argentinië
Patagonië in die Suide van Argentinië

Die Republiek Argentinië is 'n Spaanse land in die suide van Suid-Amerika, tussen die Andesgebergte en die suidelike Atlantiese Oseaan. Dit is die land van Evita, Maradona en die Tango. Argentinië is Suid-Amerika se top Rugbyspelende land en ook die land waarheen 'n groep Afrikaners vroeg in die vorige eeu getrek het. Argentinië grens aan Uruguay, Brasilië, Paraguay, Bolivia en Chili. Die naam, Argentinië, is afgelei van die Latynse woord argentum (silwer), 'n edelmetaal wat 'n belangrike rol gespeel het in die opkoms van Europese kolonialisme in Argentinië. In 2001 het ekonomiese probleme insluitend die grootste wanbetaling van buitelandse skuld ($88 biljoen) ooit, gelei tot bloedige onluste en die val van die regering. Ekonomiese maatreëls soos die ontkoppeling van die peso van die dollar het egter intussen tot indrukwekkende ekonomiese herstel gelei en Argentinië is nou ook 'n gewilde toeriste-bestemming, aangehelp deur die gunstige wisselkoers teenoor meeste belangrike geldeenhede.

Lees verder by Argentinië.
besigtig


Week 49

Tipiese winkel in Provence
Tipiese winkel in Provence

Provence is 'n historiese landskap langs die Mediterreense kus van Suidoos-Frankryk, tussen die Rhônevallei in die weste en Italië in die ooste. In die noorde word dit deur die landskap Dauphiné (région Rhône-Alpes) begrens. Die huidige naam is afgelei van die Latynse naam Provincia, waarmee die Romeine in die omgangstaal na hierdie deel van die provinsie Gallia Narbonensis verwys het. In die Romeinse tydperk vestig 'n groot aantal veterane van die Romeinse leër hulle in die gebied. Die huidige départements Alpes-de-Haute-Provence, Var, Vaucluse en Bouches-du-Rhône maak deel uit van die historiese gebied Provence. Hulle vorm saam met die départements Hautes-Alpes en Alpes-Maritimes die administratiewe région Provence-Alpes-Côte d'Azur. Die onafhanklike vorstedom Monaco lê halfpad tussen Nice en die Frans-Italiaanse grens. Provence bevat 'n wye verskeidenheid landskapsvorme, wat van die vrugbare riviervallei van die Rhône in die weste tot by die berglandskap van die Seealpe in die ooste strek (met Mont Ventoux, die Luberon en die Alpilles as die belangrikste berggebiede). Die suidelike kusgebiede langs die Middellandse See word onder meer deur die vleilandskap van Camargue gekenmerk.

Lees verder by Provence
besigtig


Week 50

Windkragsentrale in Duitsland
Windkragsentrale in Duitsland

Die term hernubare energie (wat dikwels ook volhoubare of duursame energie genoem word) verwys na natuurlike en (byna) onuitputlike energiebronne soos son- en geotermiese krag, getye- en windkrag wat vir tegniese kragopwekking gebruik kan word en fossielbrandstowwe soos steen- en bruinkool, aardgas en ru-olie in toenemende mate begin vervang. Volgens die fisiese wette is die bogenaamde alternatiewe energiebronne nie "hernubaar" nie, maar kom voortdurend in natuurlike prosesse voor. Daar is ook 'n bestendige oorskot van byvoorbeeld sonenergie wat vanuit ons aarde weer na die ruimte teruggestraal word. Die ontginning van hierdie duursame energiebronne beteken slegs dat 'n klein hoeveelheid energie vir die menslike gebruik benut word. Energieverbruik in die suiwer fisiese sin is nie denkbaar sonder dat die energie in die natuurlike prosesse teruggevoer word nie. In teenstelling met die voortdurende natuurlike prosesse is die kragopwekking deur middel van fossiele brandstowwe geen duursame proses nie. Die groot voorrade kool, ru-olie en aardgas is oor 'n groot tydperk van enkele honderd miljoen jaar in 'n natuurlike proses deur die verrotting van biomassa gevorm, wat teoreties ook "hernubaar" sou kon wees. Tans het die verbruik van fossiele brandstowwe egter 'n peil bereik waar voorrade binne enkele dekades sal opraak.

Leer verder by hernubare energie
besigtig


Week 51 Wikipedia:Voorbladartikel week 51 2006
besigtig


Week 52

Die Kaapse Driehoeke
Die Kaapse Driehoeke

'n Posseël dien as bewys vir die vooruitbetaling van 'n bepaalde posgeld. Meesal is dit 'n klein reghoekige gegomde stukkie papier met een of meer afbeeldings, wat op 'n koevert of poskaart geheg word om aan te toon dat die afsender vir die aflewering reeds vooraf betaal het. Alhoewel daar nou in baie lande ook moderne massaseëls met eenvoudige uitleg bestaan, wat in outomate of met spesiale sagteware gedruk kan word, bly tradisionele seëls nog steeds miniatuurkunswerke, wat kulturele, historiese, politiese of ander onderwerpe behandel, historiese gebeurtenisse gedenk of maatskaplike en ander doeleindes met hulle gedrukte boodskap van prente, tekeninge en teks kan bevorder. Die poskantore van die verskillende lande ding gereeld met mekaar mee om die mooiste posseëls uit te reik, en danksy 'n groot aantal seëlversamelaars, wat die seëls koop sonder om van die daarmee betaalde diens gebruik te maak, speel seëls ook 'n belangrike ekonomiese rol en is 'n vername bron van inkomste vir baie kleiner lande.


besigtig